4.The Women

  1. O Mense! Vrees julle Heer, wat julle uit een enkele wese geskape het, en ook daaruit sy gesellin geskape het, en uit hulle baie mans en vrouens laat voortspruit het. En vrees Allah, in Wie se naam julle regte van mekaar eis; en hou die familiebande heg
  2. En gee aan die weeskinders hul eiendom, en moenie waardelose dinge vir hul kosbare besittings verruil nie, en wees nie gretig om húlle eiendom by julle s’n te voeg nie. Voorwaar, dis ’n groot oortreding
  3. En as julle bevrees is dat julle nie regverdig sal wees teenoor die weeskind nie, tree dan in die huwelik met vroue wat vir julle geskik sal wees, twee of drie of vier. Maar as julle vrees dat julle nie regverdig sal wees nie, trou dan net een, of met die wat julle regterhand besit. Dit is vir julle die beste wyse om onregverdigheid te voorkom
  4. En gee aan die vroue hulle bruidskat as geskenk. Maar as hulle uit eie beweging julle ’n deel daarvan kwytskeld, geniet dit dan met genoeë en plesier
  5. En dra nie die beheer van julle eiendom, wat Allah as ’n lewensmiddel aan julle gegee het, aan swaksinniges oor nie, maar onderhou hulle daarmee en klee hulle en spreek hulle met mooiheid en regverdigheid aan
  6. En toets die weeskind wanneer hulle ’n hubare ouderdom bereik het. As julle hulle dan ryp en verstandig vind, gee hul eiendom aan hulle, en verteer dit nie in spandabelheid en haas terwyl hulle nog opgroei nie. En laat hy wat vermoënd is hom daarvan weerhou, en laat die arm persoon met billikheid daarvan gebruik. En wanneer julle hul eiendom oorhandig, laat daar getuies aanwesig wees. En Allah Genoegsaam, die Groot Ouditeur
  7. Vir die mans is daar ’n aandeel van wat ouers en naasbestaandes bemaak, en ook vir vroue is daar ’n aandeel van wat die ouers en bloedverwante nalaat ~ ’n vasgestelde aandeel
  8. En wanneer familielede en weeskinders en behoeftiges by die uitdeling van die erfenis aanwesig is, gee hulle daarvan en spreek hulle met mooiheid en regverdigheid aan
  9. En laat hulle Allah vrees wat, indien hul deur ’n magtelose nageslag oorleef sal word, oor hulle besorg sal wees. En vrees Allah, en laat hulle welgevallige woorde spreek
  10. Hulle wat die eiendom van die weeskind misbruik, plaas slegs vuur in hulle mae. Die Vlammende Vuur sal hulle verteer
  11. Allah gebied julle aangaande jul kinders: vir ’n seun net soveel as vir twee meisies; maar as daar meer as twee meisies is, dan is daar vir hulle twee derdes van die nalatenskap; maar as daar net een is, moet sy die helfte kry. En vir elkeen van sy ouers is daar een sesde van die erfenis, as hy ’n kind het; maar as hy geen kinders het nie en sy twee ouers alleen van hom erf, dan sal sy moeder een derde erf; maar as hy broers het, is daar vir sy moeder een sesde, ná die uitbetaling van enige legaat wat hy dalk bemaak het, of ’n delging van skuld. Julle ouers of julle kinders: julle weet nie aan wie van hulle julle die meeste verskuldig is nie. Dit is die verordening van Allah. Voorwaar, Allah is Alwetend, vol Wysheid
  12. En vir julle is die helfte van wat julle vroue nalaat, indien hulle geen kinders het nie, maar as hulle kinders het, dan is u aandeel een kwart van wat hulle nalaat nadat enige legaat wat hulle mag bemaak het of nadat skuld gedelg is, en vir hulle is een kwart van wat u nalaat indien u geen kind het nie; maar indien u ’n kind het, dan is hulle aandeel een agtste van wat u nalaat nadat ’n legaat van wat u mag bemaak het of skuld gedelg is. En as ’n kinderlose man of vrou eiendom nalaat, en hy of sy het ’n broer of ’n suster, dan is daar vir elkeen van hulle een sesde; maar as daar meer is, dan sal hulle deelgenote wees aan een derde, nadat ’n legaat uitbetaal is van wat hulle mag bemaak het of ’n skuld gedelg is, sonder die benadeling van ander. Dít is die verordening van Allah, en Allah is Alwetend, mees Verdraagsaam
  13. Dit is die bepalinge van Allah. En wie gehoorsaam is aan Allah en Sy boodskapper, Hy sal hom die Tuine laat binnegaan waardeur riviere vloei, om daarin te woon. En dit is ’n groot sukses
  14. En wie ongehoorsaam is aan Allah en Sy boodskapper, en Sy bepalinge oortree, Allah sal hom die Vuur laat binnegaan om daarin te vertoef; en dit is ’n vernederende straf
  15. En wat die vroue betref wat hulle aan onwettige seksuele gemeenskap skuldig gemaak het, roep vier getuies teen hulle in; as hulle getuienis teen hulle kan inbring, beperk hulle dan tot die huis totdat die dood hulle kom haal, of totdat Allah vir hulle ’n weg aanwys
  16. En as twee van julle daaraan skuldig is, straf albei; en indien hulle berou het en hulself verbeter, laat hulle dan met rus. Voorwaar, Allah is Berouaanvarend, Genadevol
  17. Waarlik, Allah aanvaar slegs die berou van hulle wat in on- wetendheid gesondig het en spoedig daarna tot Allah terugkeer. Dit is tot húlle dat Allah Homself met barmhartigheid wend. En Allah is Alwetend, vol Wysheid
  18. En die aanvaarding van berou is nie vir hulle wat aanhoudend sondig nie, en as die dood hulle besoek, sê: Nou het ons berou; en dit is ook nie vir dié wat ongelowig sterwe nie. Vir hulle het Ons ’n smartlike straf voorberei
  19. O julle wat glo! Dit is julle nie geoorloof om vroue teen hulle wil te erf nie. Ook moet julle hulle nie in die verleentheid stel deur ’n deel van hul bruidskat terug te neem nie, tensy hulle skuldig was aan onwettige seksuele gemeenskap. En as julle hulle haat, dan mag dit wees dat julle iets verafsku waarin Allah veel goeds vind
  20. En as u een vrou in ruil vir ’n ander wil neem, en u haar reeds heelwat goud gegee het, neem dan niks daarvan terug nie. Sal julle dit deur laster, en op ’n klaarblyklik sondige manier, terugneem
  21. Hoe kan julle dit neem, wanneer julle reeds by mekaar ingegaan het, en hulle ’n sterk verbond met julle gesluit het
  22. En tree voortaan nie meer in die huwelik met die vroue van jul vaders nie. Voorwaar, dit is sleg en afskuwelik, en dis ’n verkeerde gebruik
  23. Vir julle is verbode: julle moeders, en julle dogters, en julle susters en julle vaders se susters, en die dogters van jul broers, en dié van jul susters, én julle soogmoeders, en jul stiefsusters, en moeders van julle vroue, en jul stiefdogters wat onder die sorg is van vroue by wie julle ingegaan het ~ maar as julle nie by hulle ingegaan het nie, dan is jul sonder blaam ~ en die vroue van julle seuns wat uit jul lendene gebore is. Ook is dit julle verbode om twee susters te trou, met uitsondering van wat reeds verby is. Voorwaar, Allah is Vergewensgesind, Genadevol
  24. En vroue wat alreeds getroud is, met uitsondering van die gevangenes wat julle regterhand besit, is vir julle verbode. Dít het Allah aan julle verorden. Alle ander vroue is julle veroorloof, op voorwaarde dat julle hulle soek met jul eiendom, en met hulle in die huwelik tree en geen ontug pleeg nie. Aangaande hulle, met wie dit jul baat om in die huwelik te tree, gee hulle hul bruidskatte volgens die voorgeskrewe bepaling. En daar sal op julle geen blaam rus oor alles waartoe julle ooreenkom nadat die bruidskat vasgestel is nie. Voorwaar, Allah is Alwetend, vol Wysheid
  25. En diegene wat nie kan bekostig om met vrye gelowige vroue te trou nie, tree dan in die huwelik met gelowige diensmeisies wat julle regterhand besit. En Allah ken julle geloof die beste. Julle is na aan mekaar; tree daarom met hulle in die huwelik met die goedkeuring van hul eienaars, en wees redelik wanneer julle vir hulle bruidskatte gee; en hulle moet kuis wees, nie ontug pleeg nie en ook geen geheime minnaars hê nie. En as hulle, nadat hulle in die huwelik getree het, aan owerspel skuldig is, straf hulle dan met die helfte van die straf wat vir vry vroue voorgeskryf is ~ Dit is vir diegene wat vrees dat hulle sal sondig. Maar onthouding sal vir julle beter wees. En Allah is Vergewensgesind, Genadevol
  26. Allah wil dit aan julle verduidelik en julle lei op die weg van hulle wat vóór julle was, en Hom na julle wend. En Allah is Alwetend, vol Wysheid
  27. En Allah wil Hom met barmhartigheid na julle wend. En dié wat deur hulle lae begeertes gelei word, begeer dat julle verder moet verdwaal
  28. Allah wil graag julle laste verlig, want die mens is van nature swak
  29. O julle wat glo! Moenie mekaar se eiendom op onwettige wyse deurbring nie, en dryf handel deur onderlinge ooreenkoms. En julle mag nie selfmoord pleeg nie. Voorwaar, Allah is altyd vir julle Genadevol
  30. En wie ook al dit doen, by wyse van oortreding en deur onregverdigheid, Ons sal hom in die Vuur werp. En vir Allah is dít maklik
  31. Indien julle die groot dinge wat vir julle verbode is, vermy, sal Ons julle slegte neigings van julle wegneem, en veroorsaak dat julle ’n geëerde plek kan binnegaan
  32. En begeer nie dít waardeur Allah sommige van julle bo ander laat uitblink nie. Vir mans is daar die voordeel van verdienste, en vir vroue is daar die voordeel van verdienste. En vra Allah om Sy oorvloed. Voorwaar, Allah is altyd die Kenner van Alles
  33. En vir elkeen het Ons erfgename bepaal ten opsigte van wat ouers en bloedverwante nalaat. En diegene met wie julle ooreenkomste onder eed bekragtig het, gee vir hulle wat hul toekom. Waarlik, Allah is Getuie van alles
  34. Mans is die beskermers en onderhouers van vroue, waarin Allah dan ook sommige laat uitblink bo die ander, omdat hulle hul vermoë bestee. Daarom is deugsame vroue ook onderdanig,1 en waak sy oor die ongesiene,2 soos Allah dit ook bewaak. En hulle van wie julle ongehoorsaamheid waarneem, wys hulle tereg, en moenie ’n bed met hulle deel nie, en tugtig hulle. As hulle daarna gehoorsaam is, vergewe hulle. Voorwaar, Allah is Verhewe, Groot
  35. En indien jy ’n skeuring tussen die twee vrees, stel dan ’n arbiter aan uit sý familie, en een uit háár familie. Indien albei versoening begeer, sal Allah dit bewerk. Voorwaar, Allah is Alwetend, en goed Ingelig
  36. En aanbid Allah, en vereenselwig niks met Hom nie; en doen goed aan julle ouers, en bloedverwante, en die weeskind en die behoeftiges; en aan julle naaste, wat ’n bloedverwant kan wees; en aan die naaste wat ’n vreemdeling is, en aan jul metgeselle, en aan die reisiger, en aan hulle wat julle regterhand besit. Voor- waar, Allah is nie lief vir die verwaandes en die grootpraters nie
  37. Die gierigaards en hulle wat mense tot gierigheid aanspoor, en wat wegsteek wat Allah hulle uit Sy oorvloed gegee het ~ en vir die ongelowiges het Ons ’n vernederende straf voorberei
  38. en vir hulle wat hulle rykdom spandeer om deur die mense gesien te word, en wat nie in Allah glo nie, en ook nie in die Laaste Dag nie; en wie die duiwel as vriend het, het ’n verderflike vriend
  39. En wat kan hulle oorkom as hulle in Allah glo en aan die Laaste Dag en spandeer van wat Allah aan hulle geskenk het
  40. Waarlik, Allah rig nie ’n greintjie kwaad aan nie; en die goeie daad word vermenigvuldig en van Sy kant is daar ’n groot beloning
  41. Maar hoe sal dit wees wanneer Ons ’n getuie vir elke volk sal inroep en u as getuie teenoor hulle stel
  42. Op hierdie Dag sal hulle wat nie wou glo nie, en die Bood- skapper ongehoorsaam was, wens dat die aarde saam met hulle gelyk gemaak moet word. En niks kan hulle vir Allah wegsteek nie
  43. O julle wat glo! Tree nie tot die gebed toe in ’n benewelde toestand nie, totdat julle weet wat julle sê; en ook nie nadat julle geslagsgemeenskap gehad het nie, totdat julle gebad het nie. En as julle siek of op reis is, of julle kom van die toilet, of julle het ’n vrou aangeraak en kon geen water vind nie, neem dan suiwer grond, en vee oor julle gesigte en hande daarmee. Voorwaar, Allah is Inskiklik, Vergewensgesind
  44. Sien julle nie vir hulle aan wie ’n deel van die Boek gegee is nie? Hulle koop dwaling aan en wens dat julle ook van die regte weg moet afdwaal
  45. En Allah weet goed wie julle vyande is. En Allah is toereikend as Vriend en voldoende as Helper
  46. Sommige van hulle, wat Jode is, ruk woorde uit verband uit en sê: Ons het gehoor maar gehoorsaam nie, en: Raa-‘ie-naa, terwyl hulle woorde met die tong verdraai en die godsdiens belaster. En het hulle maar gesê: Ons hoor en ons gehoorsaam, en: Luister, en: Oen-zoer-naa, dan sou dit vir hulle beter en meer welgevallig gewees het; maar Allah het hulle weens hulle ongeloof vervloek sodat hulle maar weinig sal glo
  47. O julle aan wie die Boek geskenk is! Glo in dít wat Ons geopenbaar het, en wat trouens bevéstig wat julle reeds besit, voordat Ons julle leiers vernietig of hulle op hulle rúe neerwerp, of hulle vervloek, soos Ons die sabatskenders vervloek het. En die gebooie van Allah sál volbring word
  48. Waarlik, Allah vergewe niemand wat iets of iemand aan Hom gelyk stel nie, maar Hy sal alle ander dinge vergewe van wie Hy wil. En wie ook al iemand met Allah vereenselwig, het waarlik ’n groot sonde gepleeg
  49. Het julle nie al mense gesien wat reinheid aan hulself toeskryf nie? Nee, Allah reinig wie Hy wil, en nie die geringste onreg sal hulle daarna aangedoen word nie
  50. Kyk net hoe het hulle leuens teen Allah versin! Voorwaar, dit is ’n groot sonde
  51. Het julle nie diegene gesien aan wie ’n deel van die Boek geskenk is nie? Hulle glo aan towery en waarseggers, en sê van hulle wat nie glo nie: Hulle word op ’n beter weg gelei as die gelowiges
  52. Dit is húlle wat deur Allah vervloek is. En wie ook al deur Allah vervloek is, vir hom sal julle geen helper vind nie
  53. Of het hulle ’n aandeel aan die Koninkryk? Maar hulle sal die mense nie soveel as ’n stippeltjie op ’n dadelpit wou gee nie
  54. Of beny hulle die mense omdat Allah van Sy gunste aan hulle gegee het? Maar ons het inderdaad aan die kinders van Abraham die Boek en die Wysheid geskenk, en Ons het aan hulle ’n groot koninkryk gegee
  55. Tussen hulle is daar diegene wat in hom3 glo en ook dié wat vir hom die rug toekeer. En die Hel is goed genoeg vir hulle
  56. Diegene wat nie in Ons tekens glo nie, sal weldra die Vuur binnegaan. En as hulle velle verbrand is, sal Ons dit telkens met ’n ander vervang, sodat hulle die volle straf kan kry. Waarlik, Allah is Almagtig, vol Wysheid
  57. En diegene wat glo en goeie dade doen, Ons sal hulle die Tuine waardeur riviere vloei, laat binnegaan, om vir ewig daarin te woon. Daarin sal vir hulle rein metgeselle wees, en Ons sal hulle toegang tot verdiepende skadu’s verleen
  58. Voorwaar, Allah gebied julle om alle toevertroude pande terug te gee aan hulle vir wie dit toekom, en dat wanneer julle tussen mense moet oordeel, julle dit in geregtigheid moet doen. Voor- waar, Allah vermaan julle met wat voortreflik is. Voorwaar, Allah is die Alhorende, Alsiende
  59. O julle wat glo! Gehoorsaam Allah en gehoorsaam die Bood- skapper, en diegene in gesagsposisies; en indien julle oor iets verskil, verwys dit na Allah en die Boodskapper, indien julle in Allah en aan die Laaste Dag glo. Dit is die beste en ook meer geskik vir die bereiking van die einddoel
  60. Het julle diegene gesien wat beweer dat hulle glo in die openbaringe en in dít wat vóór hulle geopenbaar is? Hulle soek graag die oordeel van die duiwel, hoewel hulle beveel was om hom te verwerp. En die duiwel wil hulle graag laat afdwaal
  61. En wanneer aan hulle gesê word: Kom die dinge na wat Allah aan die Boodskapper geopenbaar het, dan sien u hoedat die huigelaars van u af wegdraai
  62. Maar wanneer ’n ongeluk hulle tref, vanweë hul eie doen en late, kom hulle na u en sê: Ons sweer by Allah! ons het niks anders as goed en versoening bedoel nie
  63. Dit is húlle van wie se harte Allah die geheime weet; wend julle daarom van hulle af weg, en vermaan hulle, en spreek hulle aan met treffende woorde
  64. En Ons stuur geen boodskapper nie of hy moet, volgens Allah se gebod, gehoorsaam word. En het hulle (die huigelaars) maar, toe hulle hulself onreg aangedoen het, na u gekom, en het die Boodskapper maar om vergifnis vir hulle gesmeek, dan sou hulle Allah sekerlik Berouaanvarend, Genadevol gevind het
  65. Maar nee, by u Heer, hulle kan geen ware geloof ervaar nie, alvorens hulle u nie as regter oor hulle aanstel nie, en daar geen verset in hulle harte teen u is nie, en hulle hulself aan u onderdanig maak nie
  66. En as Ons hulle gebied en gesê het: Gaan lê jul lewens af; of: Verlaat julle wonings; sou hulle dit nie gedoen het nie, behalwe ’n paar van hulle. Het hulle maar gedoen wat hulle vermaan was om te doen, sou dit vir hulle beter gewees het, en ook ’n versterking van hul geloof
  67. En dan sou Ons hulle sekerlik ’n groot beloning gegee het
  68. En Ons sou hulle waarlik op die regte pad gelei het
  69. En wie Allah en die Boodskapper gehoorsaam, hulle sal onder diegene tel aan wie Allah Sy gunste skenk, naamlik, die profete en die getrouelinge, en die getuies,4 en die heiliges; en hulle is in uitnemende geselskap
  70. Dít is die genade van Allah, en Allah is waarlik die Alwetende
  71. O julle wat glo! Tref goeie voorsorg, en beweeg voort in groepe of gesamentlik
  72. Tussen julle is diegene wat wil kop uittrek. As ’n ongeluk julle tref, sê hy: Voorwaar, Allah het my ’n guns bewys omdat ek nie saam met julle was nie
  73. Maar indien Allah julle bevoordeel, sê hy, asof daar tussen julle en hom geen vriendskap bestaan nie: Was ek saam met julle, sou ek nóg gelukkiger gewees het
  74. Laat hulle dan, wat die lewe van hierdie wêreld vir dié van die Hiernamaals opoffer, in die weg van Allah strewe. En wie ook al in die weg van Allah strewe, ongeag of hy sneuwel of ’n oorwinning behaal, Ons sal aan hom weldra ’n groot beloning besorg
  75. En waarom strewe julle nie vir die saak van Allah nie, en vir die swakkes ~ manne en vroue en kinders ~ wie uitroep: Onse Heer! Neem ons weg uit hierdie stad waarvan die bewoners onderdrukkers is, en skenk aan ons ’n vriend en ’n helper
  76. Diegene wat glo, strewe in die weg van Allah, en die ongelowiges in die weg van die duiwel. Strewe daarom téén die vriende van die duiwel; voorwaar, die stryd van die duiwel is ’n vergeefse stryd
  77. Het u hulle gesien aan wie gesê is: Weerhou julle hande van die kwaad: onderhou die gebede en betaal die Zakaat?5 Maar wanneer hulle tot die stryd beveel word, dan vrees sommige die mense soos Allah gevrees behoort te word, en selfs nog meer, en sê: Ons Heer! Waarom het U ons in die stryd gestuur? Waarom het U ons nie nog ’n rukkie lank uitstel verleen nie? Die voordeel van hierdie wêreld is maar gering; en vir die pligsgetroues is die Hiernamaals beter. En nie die minste onreg sal julle aangedoen word nie
  78. Waar julle ook al mag wees, die dood sal julle oorval, selfs al is julle ook op hoë torings. En as iets goeds met hulle gebeur, sê hulle: Dit is van Allah. Maar as die kwaad hulle oorval, sê hulle: Dit is van u.6 Sê: Alles kom van Allah. Maar wat makeer hierdie mense dat hulle nie die Woord wil verstaan nie
  79. Indien enigiets van goed met julle gebeur, dit kom van Allah, en watter kwaad julle ook al mag oorval, is deur julle eie toedoen. En Ons het u7 as ’n boodskapper na die mense gestuur. En Allah is ’n bevoegde Getuie
  80. Wie die Boodskapper gehoorsaam, is inderwaarheid aan Allah gehoorsaam. En diegene wie hulself wegkeer ~ u is nie ’n bewaker oor hulle nie
  81. En hulle sê: Ons is gehoorsaam! Maar wanneer hulle van u af wegdraai, smee sommige in die nag komplotte téén u woorde. En Allah teken alles op wat hulle in die nag beraam. Wend u dus van hulle af en stel u vertroue alleen in Allah. En Allah is ’n uitnemende Voog
  82. Sal hulle dan nie die Qur’ãn bepeins nie? Was dit van iemand anders as Allah, sou hulle daarin heelwat teenstrydighede ontdek het
  83. Maar as hulle nuus van veiligheid of vrees verneem, versprei hulle dit. As hulle dit maar na die Boodskapper of die gesags- voerders verwys het, dan sou dié, uit hoofde van hul kennis, dit kon verklaar. En was die genade van Allah nie met julle nie, dan sou julle almal, met enkele uitsonderinge, die duiwel gevolg het
  84. Strewe dan in die weg van Allah ~ u is slegs vir uself verantwoordelik ~ en spoor die gelowiges aan. Dit kán wees dat Allah die strydkrag van die ongelowiges beteuel. En Allah is Magtig, en Streng in die oplê van straf
  85. Wie ook al as bemiddelaar in ’n goeie saak optree, sal ’n aandeel daaraan hê; en wie as bemiddelaar in ’n slegte saak optree, hy sal ook ’n aandeel daaraan hê. En Allah hou toesig oor alles
  86. En wanneer julle gegroet word, groet dan vriendeliker terug, of erken dit ten minste. Voorwaar, Allah hou rekening van alles
  87. Allah! Daar is geen God nie behalwe Hy. ~ Op die Opstan- dingsdag sal Hy julle byeenbring; daaroor bestaan geen twyfel nie. En wie se woorde is meer opreg as Allah s’n
  88. Waarom is julle in twee kampe verdeel oor die Huigelaars? Allah het hulle tot die ongeloof laat terugkeer omdat hulle dit verdien het. Is julle gretig om diegene (op die regte weg) te lei vir wie Allah laat afdwaal het? En wie Allah laat afdwaal, vir hom sal u geen uitweg vind nie
  89. Hulle wens dat julle so ongelowig is as hulle, sodat julle aan mekaar gelyk kan wees; neem daarom geen vriende uit hul midde nie, totdat hulle ter wille van Allah uit hul huise gevlug het. As hulle weer in vyandskap verval, gryp hulle dan en maak hulle dood, waar julle hulle ook mag vind; en neem geen vriend of helper uit hulle midde nie
  90. behalwe as hulle aan ’n volk behoort met wie julle ’n verbond gesluit het, of hulle wat na julle kom terwyl hulle harte daarteen in verset is om julle of hul eie volk te beveg. Daarom, as hulle hulself op ’n afstand hou en julle nie beveg nie, en julle vrede aanbied ~ dan laat Allah julle nie toe om iets téén hulle te onderneem nie
  91. Julle sal ander vind wat by julle sowel as hul eie volk veilig wil wees; telkens wanneer hulle tot vyandigheid opgeroep word, volg hulle blindelings. As hulle hul dan nie op ’n afstand hou nie, en julle ook nie vrede aanbied of hulle hande terughou nie, gryp hulle dan en bring hulle om, waar julle hulle ook mag vind. Teenoor hulle het Ons julle ’n duidelike opdrag gegee
  92. Dit betaam nie ’n gelowige om ’n ander gelowige te vermoor nie, tensy dit per ongeluk gebeur. En wie ’n gelowige per ongeluk doodmaak, moet ’n gelowige slaaf bevry, en bloedgeld aan sy mense8 betaal, tensy hulle dit uit liefdadigheid kwytskeld. Maar as die oorledene ’n gelowige uit ’n ongelowige stam is, dan is die bevryding van ’n slaaf voldoende. En as hy aan ’n volk behoort met wie julle ’n verbond gesluit het, dan moet die bloedgeld aan sy mense betaal word, tesame met die bevryding van ’n gelowige slaaf; maar hy wat nie die vermoë daartoe besit nie, moet vir twee agtereenvolgende maande vas ~ ’n boetedoening aan Allah. En Allah is Alwetend, vol Wysheid
  93. En wie ’n gelowige met opset doodmaak, die Hel sal sy deel wees; daarin sal hy bly. Allah se toorn is op hom; Hy het hom vervloek en vir hom word ’n groot straf voorberei
  94. O julle gelowiges! Wanneer julle in die weg van Allah opruk, stel eers ondersoek in, en sê vir niemand wat julle in vrede groet: U is geen gelowige nie! ~ Soek altyd die goeie in hierdie lewe. By Allah is goeie in oorvloed. Julle was voorheen ook so,9 maar Allah het aan julle Sy guns bewys; stel daarom eers ondersoek in. Voorwaar, Allah is altyd bewus van julle dade
  95. Die onwilliges tussen die gelowiges ~ met uitsondering van dié met liggaamsgebreke ~ is nie gelyk aan hulle wat met hul rykdom en persoon hard in die Weg van Allah strewe nie. Allah het hulle wat so strewe, stap vir stap bo die draadsitters laat uitblink. En aan elkeen het Allah vele gunste belowe. En Allah sal die strewers bó die draadsitters bevoordeel met beloning
  96. ’n groter vergifnis en barmhartigheid. En Allah is Verge- wensgesind, Genadevol
  97. Aangaande hulle wat deur engele ter dood gebring is terwyl hulle aan hulself onreg gedoen het, sal die engele vra: Wat het julle aangevang? Dan sal hulle sê: Ons was swak. Aan hulle sal gesê word: Was Allah se aarde nie ruim genoeg vir julle om daarop te migreer nie? Dit is húlle vir wie die Hel ’n tuiste sal wees ~ en dit is ’n gedoemde eindbestemming
  98. Maar nie die swak mans en vroue en kinders, wat geen middel tot hul beskikking gehad het nie en ook geen ontsnappingsroete kon vind nie
  99. Dit mag wees dat Allah hulle sal vergewe, want Allah is Vergewensgesind
  100. En wie ter wille van Allah moet vlug, sal op aarde maklik ’n herberg vind. En wie sy huis verlaat en Allah en Sy Boodskapper volg, en die dood oorval hom, Allah het sy beloning reeds vasgestel; en Allah is Vergewensgesind, Genadevol
  101. En wanneer julle deur die land reis, sal dit vir julle geen sonde wees om die gebed te verkort nie, as julle reken dat die ongelowiges julle leed kan aandoen. Voorwaar, die ongelowiges is julle openlike vyand
  102. En wanneer u10 in hul middde is, en hulle lei in gebed, laat ’n deel van hulle by u staan, en ook hul wapens reghou. En wanneer hulle hul gebedsprostrasie voltooi het, laat hulle agter om u gaan, en laat die ander groep, wat nog nie gebid het nie, vorentoe kom en met u bid, en laat hulle voorsorgmaatreëls tref en ook hul wapens neem. Die ongelowiges begeer dat julle nie ag sal slaan op jul wapens en bagasie nie, sodat hulle julle gesamentlik en plotseling kan oorval. As julle jul wapens opsy lê as dit reën of wanneer julle siek is, sal dit julle nie as sonde gereken word nie, maar tref voorsorg. Voorwaar, Allah het vir die ongelowiges ’n vernederende straf voorberei
  103. Dus, wanneer julle die gemeentelike gebed voltooi het, dink aan Allah staande, sittend of lê-ende. Maar wanneer julle veilig is, onderhou die gereelde gebed. Gebed is vir die gelowiges voorgeskryf op vasgestelde tye
  104. En wees nie weekhartig as julle die vyand jag nie. As julle ly, dan ly hulle ook, en julle het hoop van Allah wat hulle nie durf om te hoop nie. En Allah is Alwetend, vol Wysheid
  105. Waarlik, Ons het aan u die Boek wat die waarheid bevat, geopenbaar sodat u tussen die mense reg kan spreek met behulp van wat Allah u geleer het. En wees geen pleitbesorger vir die oneerlikes nie
  106. En vra vergifnis van Allah. Voorwaar, Allah is Vergewensgesind, Genadevol
  107. En tree nie in die bresse vir hulle wat hul siele onreg aangedoen het nie. Voorwaar, Allah is nie lief vir die verraderlikes en die sondiges is nie
  108. Hulle probeer om hulle misdade vir die mense weg te steek, maar vir Allah kan hulle dit nie verberg nie; en Hy is by wanneer hulle snags komplotte smee wat Hom nie behaag nie. En Allah omring altyd alles wat hul doen
  109. Kyk! Dit is júlle wat in hierdie lewe vir hulle pleit. Maar wie sal op die Opstandingsdag vir hulle by Allah intree, of wie sal as voog oor hulle wees
  110. En wie sondig of sy siel onreg aandoen en daarna vir Allah om vergifnis vra, sal Allah Vergewensgesind, Genadevol vind
  111. En wie ’n sonde begaan, doen dit ten koste van sy eie siel. En Allah is Alwetend, vol Wysheid
  112. En wie ’n fout of ’n sonde begaan en dit dan aan ’n on- skuldige toeskryf, voorwaar, hy neem die skuld van lastering en kwaadwilligheid op homself
  113. En was dit nie vir die goedertierenheid van Allah, en Sy genade nie, sou hulle al besluit het om u te vernietig. Maar hulle vernietig niemand anders as hulle self nie, en hulle kan u geheel en al geen skade berokken nie. En Allah het aan u die Boek en die Wysheid geopenbaar, en u onderrig in wat u nie geweet het nie; en Allah se goedertierenheid oor u is baie groot
  114. Daar word niks goeds gebore uit die geheime beraadslaging van huigelaars nie, maar wel uit hom wat liefdadigheid of goedheid bevorder en die mense tot vrede aanspoor. En wie dít doen en na die welbehae van Allah soek, hom sal Ons ryklik beloon
  115. En wie vyandig teen die Boodskapper optree nadat sy leiding vir hom duidelik geword het en ’n ander weg as die gelowiges inslaan, Ons sal hom sy eie sin laat volg, en Ons sal hom in die Hel werp. Dit is ’n gedoemde bestemming
  116. Voorwaar, Allah vergewe dit nie as iets aan Hom gelykgestel word nie, maar behalwe dít vergeef Hy wie Hy wil. En wie iets aan Allah gelykstel, het inderdaad ver afgedwaal
  117. Wie iets anders as Hy aanbid, aanbid lewelose dinge, en hulle aanbid niemand anders as die opstandige Satan nie
  118. vir wie Allah vervloek het. En hy11 het gesê: Ek sal voorwaar ’n gedeelte van u dienaars mislei
  119. en ek sal hulle sekerlik laat dwaal en ydele begeertes in hulle opwek, en hulle aanhits om die ore van die vee te keep,12 en hulle aanspoor om die skepping van Allah te verderf. En wie die duiwel as vriend neem, en Allah verloën, sal sekerlik ’n sigbare verlies ly
  120. Hy maak beloftes aan hulle, en wek in hulle ydele begeertes. En wat die duiwel belowe, is niks anders as bedrog nie
  121. Dit is húlle wat in die Hel sal woon, en hulle sal daaruit nie kan ontsnap nie
  122. En hulle wat glo en goeie dade doen, sal ons laat ingaan in die Tuine waardeur riviere vloei, om daar vir ewig te woon. Allah kom Sy beloftes na. en wie se woord is meer waar as Allah s’n
  123. Dit sal nie na julle13 ydele smaak wees nie, en ook nie na die ydele smaak van die Mense van die Boek nie. Wie kwaad doen, sal daarvoor gestraf word, en hy sal geen vriend of helper behalwe Allah vind nie
  124. Maar wie goeie werke verrig, hetsy man of vrou, en ’n gelowige is ~ dit is húlle wat die Hemel sal binnegaan, en hulle sal nie die geringste onreg aangedoen word nie
  125. En wie is ’n groter gelowige as hy wat homself onvoorwaardelik aan Allah onderwerp, en wat goed doen aan sy naaste, en die godsdiens van Abraham, die opregte, volg? En Allah het vir Abraham in vriendskap geneem
  126. En aan Allah behoort alles wat in die hemel en op die aarde is. En Allah omvat alle dinge
  127. En hulle14 vra u regspraak aangaande vroue. Sê: Allah gee julle Sy uitspraak oor hulle; tesame met wat aan julle in die Boek15 geopenbaar is oor die weduwees ~ aan wie julle nie soveel gee as wat voorgeskryf is nie, terwyl julle nie van voornemens is om met hulle in die huwelik te tree nie, ~ en ook oor die swakkes tussen die kinders, en dat julle die weeskind regverdig moet behandel. En watter weldaad julle ook verrig, voorwaar, Allah weet daarvan
  128. As ’n vrou mishandeling of skeiding van haar man vrees, sal hulle sonder blaam wees as hulle na ’n versoening streef. En ’n versoening is verkiesliker. En gierigheid ontstaan in die gedagte. En as julle goed doen aan ander en Allah vrees, dan is Allah waarlik goed ingelig oor julle dade
  129. En julle kan geen gelykheid tussen vroue handhaaf nie, hoe graag julle ook al wil. Maar keer nie een van hulle die rug toe sodat julle haar in onsekerheid laat nie. En as julle ’n versoening bewerk en Allah vrees, dan is Allah voorwaar Vergewensgesind, Genadevol
  130. En as hulle van mekaar skei, dan sal Allah albei deur Sy oorvloed onafhanklik maak. Allah is Barmhartig, vol Wysheid
  131. En aan Allah behoort alles wat in die hemel en op die aarde is. Ons het die mense van die Boek vóór julle en ook júlle beveel om My te vrees. En indien julle nie glo nie ~ voorwaar, aan Allah behoort alles wat in die hemel en op die aarde is. En Allah is Selfgenoegsaam, Lofwaardig
  132. En aan Allah behoort alles wat in die hemel en op die aarde is. En Allah is ’n uitnemende Voog
  133. As dit Hom behaag, kan Hy julle, o volk, wegneem, en ander in julle plek stel. En Allah het al die mag om dit te doen
  134. Wie die beloning van hierdie wêreld verlang ~ by Allah is die beloning van hierdie sowel as die toekomende wêreld. En Allah is Alhorend Alsiende
  135. O julle gelowiges! Wees voorstanders van geregtigheid, getuies vir Allah, selfs al is dit tot skade van julle of julle ouers of julle verwante ~ ongeag of hulle ryk of arm is; Allah verlang van die ryk persoon net soveel as van die behoeftige. Volg nie julle begeertes sodat julle afdwaal nie. En indien julle die waarheid verdraai of daarvan afwyk, dan is Allah nog steeds bewus van julle dade
  136. O julle gelowiges! Glo in Allah en Sy Boodskapper en die Boek wat Hy aan Sy Boodskapper geopenbaar het. En wie nie in Allah, en Sy engele, en Sy Boeke en Sy boodskappers en die Laaste Dag glo nie, het voorwaar vér afgedwaal
  137. Hulle wat eers glo en dan die geloof verwerp, en dit daarna weer aanneem en weer eens verwerp, en daarna in ongeloof toeneem, vir hulle sal Allah nie vergewe nie, ook nie na die regte weg lei nie
  138. Vertel aan die huigelaars dat daar op hulle ’n smartlike straf wag
  139. hulle wat die ongelowiges in plaas van die gelowiges as vriende neem. Soek hulle mag by húlle? Voorwaar, alle mag behoort aan Allah
  140. Hy het reeds in die Boek16 aan julle geopenbaar dat wanneer julle hoor dat die tekens van Allah bespot word, julle nie saam met die spotters mag sit nie, behalwe as hulle die gesprek verander, anders sal julle saam met hulle gereken word. Voorwaar, Allah sal die huigelaars en ongelowiges in die Hel bymekaar bring
  141. hulle wat wag dat ongelukke julle tref. Verleen Allah ’n oorwinning aan julle, sê hulle: Was ons nie saam met julle nie? En as daar ’n kans vir die ongelowiges was, dan sê hulle: Het ons nie die oorhand oor julle gekry en julle teen ongelowiges beskerm nie? Daarom sal Allah op die Opstandingsdag tussen julle oordeel, en Hy sal die ongelowiges nie oor die gelowiges laat seëvier nie
  142. Die huigelaars probeer om Allah te bedrieg, maar hulle sal vir hulle bedrog gestraf word. En wanneer hulle vir die gebed opstaan, dan staan hulle traag op ~ hulle doen dit slegs om deur die mense gesien te word en dink maar min aan Allah
  143. weifelend tussen dít of dat ~ en behoort nóg aan hierdie, nóg aan daardie. En diegene vir wie Allah veroorsaak om af te dwaal, vir daardie persoon sal julle geen uitweg vind nie
  144. O julle wat glo! Verkies nie die ongelowiges as vriende bó die gelowiges nie. Wil julle Allah ’n duidelike bewys téén julself gee
  145. Die huigelaars is voorwaar in die diepste kuil van vuur en vir hulle sal julle geen helpers vind nie
  146. behalwe wanneer hulle berou het en hulself verbeter, en aan Allah vashou en opreg is in hulle gehoorsaamheid aan Allah ~ sulkes is sáám met die gelowiges. En Allah sal aan die gelowiges weldra ’n buitengewone beloning gee
  147. Waarom sal Allah julle dan straf as julle dankbaar is en glo? En Allah is die ewige Vermenigvuldiger van Belonings, Alwetend
  148. Allah hou nie van beledigende taal in die openbaar nie, behalwe deur iemand wat onreg aangedoen word; en Allah is Alhorend, Alwetend
  149. Of julle openlik of in die geheim goed doen, of kwaad vergewe, voorwaar, Allah is altyd Vergewend, Almagtig
  150. Diegene wat Allah en Sy Boodskapper verwerp en ’n onderskeid wil maak tussen Allah en Sy boodskappers, en sê: Ons glo in sommige maar nie in ander nie, en ’n middeweg wil volg
  151. hulle is waarlik ongelowiges, en vir die ongelowiges het Ons ’n vernederende straf berei
  152. En diegene wat in Allah en in Sy boodskappers glo, en geen onderskeid tussen enige van hulle maak nie, aan hulle sal Hy ’n beloning toeken. Allah is Vergewensgesind, Genadevol
  153. Die Mense van die Boek vra u om vir hulle ’n Boek uit die hemel te laat neerdaal; tog het hulle van Moses iets groter gevra, want hulle het gesê: Toon Allah aan ons. Toe het ’n verbryselende straf hulle getref vanweë hul oortredinge. Toe het hulle, nadat duidelike bewyse aan hulle getoon is, ’n kalf as god geneem; tog het Ons dit vergewe. En Ons het aan Moses duidelike gesag verleen
  154. En tydens die verbond het Ons die berg hoog bo hulle verhef, en gesê: Gaan die poort ootmoedig binne. En Ons het aan hulle gesê: Onteer die Sabbat nie; en Ons het ’n vaste verbond met hulle gesluit
  155. Weens hulle skending van die verbond, en hulle ongeloof in die tekens van Allah, en omdat hulle die profete sonder rede dood- gemaak het, en omdat hulle sê: Ons harte is gesluier ~ nee, Allah het dit verseël vanwee hulle ongeloof; daarom glo hulle maar min
  156. en om hulle ongeloof en hul kwaadaardige laster teen Maria
  157. en omdat hulle sê: Ons het die Messias, Jesus, die seun van Maria, die boodskapper van Allah, omgebring ~ en hulle het hom nie gedood nie, en ook nie tot die dood toe gekruisig nie, maar dit het vir hulle gelyk asof dit so is. En hulle wat hieroor verskil, twyfel voorwaar daaraan. Hulle het geen kennis daaromtrent nie, maar volg slegs ’n vermoede, en hulle het hom beslis nie doodgemaak nie
  158. nee, Allah het hom opgehef tot Homself, en Allah is Almagtig in krag en wysheid
  159. Daar is niemand van die Mense van die Boek nie, maar wat sal moet in hom glo voor sy dood
  160. Weens die ongeregtigheid van die Jode het Ons hulle die goeie dinge verbied wat Ons hulle voorheen vergun het; en ook omdat hulle die mense van die weg van Allah weerhou het
  161. En omdat hulle woekerwins neem ~ ofskoon dit hulle verbied was ~ en om hulle onregverdige verorbering van die rykdom van mense. En vir die ongelowiges tussen hulle het Ons ’n smartlike kastyding voorberei
  162. Maar húlle wat kennis dra, en die gelowiges, glo in dit wat aan u geopenbaar is, en in dít wat vóór u geopenbaar is, en so ook hulle wat die gereelde gebed onderhou en die Zakaat18 betaal, en in Allah en aan die Laaste Dag glo ~ aan hulle sal Ons ’n groot beloning gee
  163. Voorwaar, Ons het aan u geopenbaar soos Ons aan Noag en die profete ná hom geopenbaar het; en aan Abraham en Ismael, en Isak en Jakob en die volkstamme en aan Jesus en Job en Jona en Aäron en Salo-mo het Ons geopenbaar, en aan Dawid het Ons die psalms gegee
  164. En van sommige Boodskappers het Ons julle vertel, terwyl Ons julle nie vertel het van ander nie, en tot Moses het Allah direk gepraat
  165. boodskappers wat blye tyding bring en ook waarsku, sodat die mense nie teen Allah sal murmureer ná die koms van die boodskappers nie. En Allah is Almagtig, vol Wysheid
  166. Maar Allah getuig dat wat Hy aan u geopenbaar het, Hy deur Sy kennis geopenbaar het, en die engele getuig ook so. En Allah is die beste Getuie
  167. Hulle wat nie glo nie en wat ander van die weg van Allah afhou, het inderdaad ver afgedwaal
  168. Hulle wat nie glo nie en wat onregverdig handel, sal nooit deur Allah vergewe word nie, en Hy sal hulle nooit na ’n pad toe lei nie
  169. behalwe die pad tot die Hel sodat hulle lank daarin kan vertoef. En vir Allah is dít maklik
  170. O mensdom! Die Boodskapper het waarlik met die waarheid van jul Heer na julle gekom, daarom moet julle glo; dit sal vir julle beter wees. Maar as julle nie glo nie, voorwaar, aan Allah behoort alles wat in die hemel en op die aarde is. En Allah is Alwetend, vol Wysheid
  171. O Mense van die Boek! Moenie die bepalinge van julle godsdiens verontagsaam nie, en sê niks anders van Allah as die waarheid nie. Die Messias, Jesus, die seun van Maria, is slegs ’n boodskapper van Allah en van Sy woord wat Hy as ’n genadegawe van Hom aan Maria gegee het. Glo daarom in Allah en Sy boodskappers. En sê nie: Drie-enige, nie; maar staak dit; dit is vir julle beter. Allah is ’n enkele God. Dit is ver van Sy heiligheid dat Hy ’n seun sou hê. Aan Hom behoort wat in die hemel en op die aarde is. En Allah is die groot Bewaarder van Alles
  172. Die Messias ag dit nie benede hom om ’n dienaar van Allah te wees nie, en so ook nie die engele wat naby Hom is nie. En wie Sy diens minag en hoogmoedig is, Hy sal hulle almal versamel en voor Hom bring
  173. Maar hulle wat glo en goeie dade doen, sal hul beloning ten volle van Hom ontvang, en uit Sy oorvloed nog meer. Maar hulle wat dit versmaai en hoogmoedig is, sal Hy met ’n smartlike kastyding bestraf. En hulle sal buiten Allah nóg vriend nóg helper vind
  174. O mense! Tot julle het inderdaad ’n duidelike bewys van julle Heer gekom; en Ons het ’n helder lig vir julle neergestuur
  175. Daarom ~ aangaande hulle wat in Allah glo en aan Hom vashou ~ Hy sal hulle tot Sy barmhartigheid en genade toelaat, en hulle op die regte pad na Hom lei
  176. Hulle vra u om uitspraak te gee: Sê: Dit is Sy uitspraak aangaande hulle wat nóg ouers nóg kinders het. Indien ’n man kinderloos sterf, maar ’n suster het, dan moet sy die helfte kry van wat hy nalaat; en hy sal alles van haar erf as sy geen kind het nie. Maar as daar twee susters is, moet hulle twee-derdes kry van wat hy nalaat. En as daar meer broers en susters is, dan moet elke broer soveel kry as twee susters. Allah maak dit aan julle duidelik, sodat julle nie moet afdwaal nie. En Allah het kennis van alle dinge