3.The Family of Imraan

  1. Alief Laam Miem
  2. Allah! Daar is geen God nie behalwe Hy, die Ewiglewende, die Selfbestaande, deur Wie almal bestaan
  3. Hy het die Boek aan u geopenbaar ooreenkomstig die vereistes van waarheid en regverdigheid, sodat dit kan bevestig wat voorafgegaan het; en Hy het die Tora en die Evangelie vantevore geopenbaar as ’n leiding vir die volk, en daarna het Hy die Furqãn2 gestuur
  4. Hulle wat nie in die Boodskapper van Allah glo nie, op hulle wag ’n smartlike straf. En Allah is Almagtig, die Heer van Vergelding
  5. Voorwaar, niks op aarde of in die hemel is vir Allah verborge nie
  6. Dit is Hy wat julle in die baarmoeders na Sy behae vorm. Niemand het die reg om aanbid te word nie, behalwe Hy (Allah), die Almagtige, die Alwyse
  7. Dit is Hy wat die Boek aan u geopenbaar het; en sommige van die verse daarin is gebiedend en vorm die grondslag van die Boek; maar daar is ook ander wat allegories is. Hulle wie se harte afkerig is, soek die allegoriese verse om dit te verdraai en hul eie uitleg daaraan te gee om sodoende daarmee te mislei. En nie- mand ken die juiste uitleg daarvan nie behalwe Allah en hulle wat diep gewortel is in die kennis. Hulle sê: Ons glo daarin; dit kom alles van ons Here. En niemand trek daar lering uit nie behalwe die mense wat verstaan
  8. Ons Heer! Laat ons harte nie afwyk nadat U ons op die regte weg gelei het nie, en wees ons genadig. Voorwaar, U is die Barmhartige
  9. Ons Heer! Waarlik, U is die Versamelaar van Mense op ’n Dag waaroor daar geen twlyfel is nie. Voorwaar, Allah breek geen belofte nie
  10. Nóg hul besittings, nóg hul kinders sal die ongelowiges enigsins teen Allah baat. En hulle sal die brandstof van die Vuur wees
  11. Soos ook die geval vóór hulle was met die volk van Farao. Hulle het Ons boodskappe verwerp, daarom het Allah hulle weens hul sonde verdelg. En Allah is ’n streng vergelder van die kwaad
  12. Sê aan die ongelowiges: Julle sal verslaan en in die Hel versamel word! En dit is ’n afgryslike rusplek
  13. Voorwaar, daar was vir julle ’n teken in die twee strydmagte wat mekaar in die geveg ontmoet het ~ die een strydende op die weg van Allah, en die ander ongelowig. En die ongelowiges het die gelowiges aangesien as dubbel so talryk as hulself. En Allah versterk met Sy hulp wie Hy wil. Daarin is waarlik ’n les vir hulle wat kan sien
  14. Skoonskynend vir die mense is die liefde vir die begeerte ge- maak: die begeerte en hunkering tot vroue en kinders, stapels goud en silwer, volbloed perde, vee en landerye. Dít is vir die huidige lewe. En Allah ~ in Hom is die ware einddoel van die lewe
  15. Sê: Sal Ek julle oor béter dinge inlig? Vir hulle wat teen die sonde waak sal by hul Heer in Tuine wees waardeur riviere vloei; daarin sal hulle vertoef en daar sal vir hul rein metgeselle wees, en die welbehae van Allah sal op hul rus. En Allah sien Sy dienaars
  16. Hulle wat sê: Ons Heer! Ons glo waarlik; vergewe ons daarom ons sonde en red ons van die verterende Vuur
  17. Die geduldiges, die opregtes, en die gehoorsames, en hulle wat spandeer in die weg van Allah, en hulle wat in die laaste ure van die nag om vergifnis smeek
  18. Allah self getuig dat niemand die reg het om aanbid te word nie, behalwe Hy, en so ook die engele en hulle wat kennis besit en daarmee die waarheid gestand doen. Niemand het die reg om aanbid te word nie, behalwe Hy, die Almagtige, die Alwyse
  19. Voorwaar, die enigste ware godsdiens voor Allah is Islam. En hulle aan wie die Boek gegee is, (die Christene en die Jode) het ~ nadat kennis tot hulle gekom het ~ slegs uit afguns van mekaar verskil. En wie ook al die tekens van Allah verwerp, Allah is inderdaad snel in afrekening
  20. Maar as hulle met jou (Muhammad) stry, sê dan: Ek het my aan Allah onderwerp, en hulle wat my volg. En vra aan hulle aan wie die Boek gegee is, en aan die ongeletterdes (die heidense Arabiere): Het julle julself al onderwerp? As hulle hulself onderwerp, is hulle op die regte weg, maar as hulle daarvan weg- draai ~ u plig is slegs die verkondiging van die boodskap. En Allah sien Sy dienaars
  21. Hulle wat die tekens van Allah verwerp en die profete ten onregte ómbring, en diegene vermoor wat tot regverdigheid maan ~ kondig vir hulle ’n smartlike straf aan
  22. Want dit is húlle wie se dade in hierdie lewe en in die Hierna- maals tevergeefs sal wees; en hulle sal geen hulp ontvang nie
  23. Het u nie diegene gesien aan wie ’n gedeelte van die Boek gegee is nie? Hulle word na die Boek van Allah uitgenooi, sodat daar reg tussen hulle kan geskied; maar ’n deel van hulle het die rug daarop gekeer en afkerig geword
  24. Dit is omdat hulle sê: Die Vuur sal ons nie aantas nie behalwe vir ’n kort tydjie; en dít wat hulle versin, stel hulle in hul godsdiens teleur
  25. Hoe sal dit dan wees wanneer ons hulle versamel op die Dag waaroor daar geen twyfel is nie? En elke siel sal ooreenkomstig sy verdienste ten volle uitbetaal word, en geen onreg sal hulle aangedoen word nie
  26. Sê: O Allah, Eienaar van die Koninkryk! U gee die koninkryk aan wie U wil, en verwyder dit van wie U wil; ook verhef U wie U wil, en U verneder wie U wil. In U hand is die goeie. Voor- waar, U het mag oor alles
  27. U laat die nag oorgaan in die dag, en die dag in die nag; U bring die lewende voort uit die dode, en die dode uit die lewende. En U gee sonder maat aan wie U wil
  28. Laat die gelowiges nie die ongelowiges as vriende verkies nie. En wie dít doen, het geen aandeel by Allah nie ~ tensy julle julself téén hulle bewaak, en goed bewaak. En Allah waarsku julle teen Sy vergelding. En na Allah is die uiteindelike terugkeer
  29. Sê (O Muhammad): Dit maak nie saak of julle verberg of openbaar maak dit wat in julle harte is nie; Allah weet dit. En Hy weet wat in die hemele en op die aarde is. En Allah het mag oor alles
  30. Dink aan die Dag waarop elke siel sal staan teenoor die goed en die kwaad wat hy verrig het ~ wanneer hy sal wens dat hy ver verwyder is van sy kwaad. En Allah waarsku julle teen Sy ver- gelding
  31. Sê (O Muhammad): Indien julle Allah liefhet, volg my; Allah sal julle dan liefhê en julle sondes vergewe. En Allah is Vergewensgesind, Genadig
  32. Sê (O Moegammad): Gehoorsaam Allah en die Boodskapper. Maar as hulle hul afwend, sal Allah die ongelowiges sekerlik nie liefhê nie
  33. Voorwaar, Allah het Adam en Noag en die afstammelinge van Abraham en die afstammelinge van Amran bo die volkere uitverkies
  34. afstammelinge, geslag op geslag. En Allah is Alhorend, Alwetend
  35. Toe ’n vrou van Amran gesê het: O Allah! Ek dra aan U op wat in my baarmoeder is om dit aan U diens te wy; aanvaar dit daarom van my; voorwaar, U is Alhorend, Alwetend
  36. Daarom, toe sy die lewe daaraan geskenk het, het sy gesê: My Heer! Ek het daaraan die lewe geskenk, ’n dogter ~ Allah het wel geweet waaraan sy lewe geskenk het; en die man en die vrou is nie eenders nie ~ en ek het haar Maria genoem, en ek gee haar en haar nageslag aan U oor vir beskerming teen Satan, die uitgeworpene
  37. Só het Allah haar3 dus met welbehae aangeneem en haar goed laat opgroei en haar aan Sagaria toevertrou. Telkens wanneer Sagaria die tempelkamer binnegaan om haar te sien, het hy voedsel by haar gevind. Hy het gesê: O Maria, waarvandaan kom dit? Sy het geantwoord: Dit kom van Allah. Voorwaar, Allah gee volop aan wie Hy wil
  38. Toe het Sagaria sy Heer aangeroep: My Heer! Skenk vir my ’n rein nageslag; voorwaar, U is die aanhoorder van die gebed
  39. Só het die engele dan tot hom geroep terwyl hy in die tempel- kamer staan en bid: Allah skenk U die blye tyding van Johannes, dat hy Allah se woord sal vervul ~ en hy sal edel en kuis, en ’n profeet onder die regverdiges wees
  40. Hy het gesê: My Heer! Hoe sal daar ’n seun vir my wees, noudat die ouderdom al tot my gekom het en my vrou onvrugbaar is? Hy het geantwoord: So doen Allah ~ selfs dít doen Allah vir wie Hy wil
  41. Hy het gesê: My Heer, gee vir my ’n teken daarvan. Hy het geantwoord: Die teken sal wees dat u drie dae lank met niemand sal praat nie, behalwe deur gebare. En dink dikwels aan u Heer en verheerlik Hom saans en soggens
  42. En toe die engele gesê het: O Maria! Allah het u waarlik uit- verkies, en gereinig, en bó die vroue van die wêreld verhef
  43. O Maria! Wees gehoorsaam aan u Heer, en onderwerp u, en buig saam met húlle wat biddend vooroorbuig
  44. Dit is die tyding van die Onsigbare wat ons aan u openbaar. En u was nie teenwoordig toe hulle onder mekaar geloot het oor wie van hulle voog oor Maria sal wees nie; en u was nie teenwoordig toe hulle met mekaar gestry het nie
  45. Toe die engele gesê het: O Maria! Waarlik, Allah stuur u ’n blye tyding met ’n woord van Hom oor een wie se naam die Messias sal wees, Jesus, die Seun van Maria, geëerd in hierdie wêreld en in die Hiernamaals, en hy sal onder húlle wees wat in Allah se nabyheid sal vertoef
  46. En in die wieg, en as ’n man, sal hy met die volk praat, en hy sal een van die regverdiges wees
  47. Toe het sy gesê: My Heer! Hoe sal ek dan ’n seun hê as geen man by my ingegaan het nie? Ook só skep Allah wat Hy wil. Wanneer Hy iets besluit, sê Hy slegs: Wees, en dit word
  48. En Hy sal hom in die Boek4 en in die wysheid van die Tora en die Evangelie onderwys
  49. En hy sal ’n boodskapper tot die Kinders van Israel wees, en sê: Ek kom tot julle met ’n teken van jul Heer; ek sal vir julle uit die stof ’n voël vorm, dan blaas ek daarin en met Allah se toestemming word dit ’n voël; en ek genees die blinde en die melaatse, en met die toestemming van Allah word die dooie weer lewendig, en ek lig julle in oor wat julle moet eet en wat julle in jul huise moet bewaar. Daarin is voorwaar ’n teken vir julle, as julle gelowiges is
  50. En ek bevestig wat vóór my in die Tora openbaar was, en ek staan julle ’n deel van wat vir julle verbode was toe; en ek kom na julle met ’n teken van jul Heer. Vrees Allah en gehoorsaam my
  51. Voorwaar, Allah is my Heer en julle Heer; daarom moet julle Hom aanbid. Dit is die ware weg
  52. Maar toe Jesus ongeloof by hul bemerk, het hy gesê: Wie sal my helpers wees in die Weg van Allah? Die dissipels het geantwoord: Ons is helpers in Allah se Weg; ons glo in Allah; wees u dan getuie daarvan dat ons onsself onderwerp aan U Wil
  53. Ons Heer! Ons glo in wat U geopenbaar het, en ons volg die boodskapper; skryf daarom ons name op by húlle wat getuig
  54. En die Jode het sluwe planne beraam,5 maar Allah het ook planne beraam. En Allah is ’n wonderlike Voorsiener
  55. Toe Allah gesê het: O Jesus, Ek sal u ophef en u in My teenwoordigheid verhef en van die valse aantygings van ongelowiges vryspreek, en tot op die Laaste Dag sal Ek u volgelinge laat seëvier oor die ongelowiges; dan sal julle na my toe terugkeer en Ek sal uitspraak gee oor dít waaroor julle verskil het
  56. Aangaande die ongelowiges: Ek sal hulle straf met die strengste kastyding in hierdie wêreld én in die Hiernamaals, en hulle sal geen helpers hê nie
  57. Maar aan hulle wat glo en goeie dade doen, sal Hy ’n volle be- loning toeken. En Allah het die onregverdiges nie lief nie
  58. Dit is wat Ons aan u verkondig van die tekens en die vermaning vol van wysheid
  59. En die gelykenis van die skepping van Jesus is soos die skepping van Adam. Adam is van grond geskep, en Allah het gesê: Wees, en hulle was
  60. Hierdie waarheid is van Allah; en wees nie saam met die twyfelaars nie
  61. Wie ook al met u twis nadat hierdie kennis tot u gekom het, sê: Kom, laat ons kinders, en julle kinders, en ons vroue en julle vroue, en ons volk en julle volk vergader, en laat ons dan vuriglik bid en die vloek van Allah neerroep op die leuenaars
  62. Voorwaar, dit is die ware uitleg, en niemand het die reg om aanbid te word nie behalwe Allah nie. En waarlik, Allah is die Almagtige, die Alwyse
  63. Maar as hulle die rug daarop keer; waarlik Allah is Welbekend met die kwaadstokers
  64. O Mense van die Boek! Aanvaar één woord tussen ons en julle sodat ons niemand behalwe Allah sal aanbid nie, dat ons niks anders met Hom sal vereenselwig nie, en dat sommige van ons nie ander gode behalwe Allah sal aanneem nie. Maar as hulle afkerig word, sê dan: Getuig dat ons Moesliems7 is
  65. O Mense van die Boek! Waarom stry julle oor Abraham as die Tora en die Evangelie eers ná hom geopenbaar is? Verstaan julle dan nie
  66. Want kyk! Julle stry oor dinge waarvan julle kennis dra; waarom stry julle dan nou oor iets waarvan julle niks weet nie? En Allah weet terwyl julle nie weet nie
  67. Abraham was nie ’n Jood of ’n Christen nie, maar ’n opregte, ’n Moesliem, en hy was nie een van die afgodedienaars nie
  68. Die volk wat die naaste aan Abraham is, is sekerlik hulle wat hom en hierdie profeet (Nabie Moegammad) en die gelowiges volg. En Allah is die vriend van die gelowiges
  69. ’n Deel van die Mense van die Boek begeer om julle te laat afdwaal; maar hulle verlei niemand nie, behalwe hulself, en hulle besef dit nie
  70. O Mense van die Boek! Waarom glo julle nie die tekens van Allah nie, terwyl julle tog die bewyse van die waarheid daarvan sien
  71. O Mense van die Boek! Waarom verwar julle die waarheid met die leuen en verberg julle die waarheid, terwyl julle hierdie dinge weet
  72. En ’n deel van die Mense van die Boek sê: Erken dít wat in die vroeë oggend aan die gelowiges8 geopenbaar is, en verwerp dit aan die einde van die dag. Miskien keer hulle dan weer terug
  73. En glo in niemand wat nie julle godsdiens bely nie ~ Sê: Voor- waar, die ware leiding is Allah se leiding. Is julle dan bevrees dat ’n openbaring soortgelyk aan dié wat na julle gestuur is, aan iemand anders gegee sal word? Of is julle bang dat hulle wat sulke openbaringe ontvang, met julle sal stry by julle Here? Sê: Genade is voorwaar in die hande van Allah. Hy skenk dit aan wie Hy wil. En Allah is Barmhartig, Alleswetend
  74. Hy bewys Sy uitnemende guns aan wie Hy wil. En Allah is die Heer van groot Genade
  75. En onder die Mense van die Boek is daar diegene wat, as ’n mens hom met groot skatte sou toevertrou, dit alles sal teruggee; maar daar is ook diegene wat selfs nie ’n dinar sal teruggee wat aan hom toevertrou is nie, tensy mens aanhoudend daarom vra. Dit is omdat hulle9 sê: Ons is nie aanspreeklik vir die onkundiges nie. En hulle versin ’n leuen teen Allah, en hulle besef dit
  76. Ja, wie sy belofte gestand doen en sy plig doen ~ voorwaar, Allah het die pligsgetroues lief
  77. Hulle wat ’n geringe prys vir die verbond van Allah en hulle eie ede aanneem ~ vir hulle is daar geen aandeel in die Hiernamaals nie. Allah sal nie met hulle praat nie, Hy sal hulle ook nie op die Oordeelsdag nie aankyk nie. Hy sal hulle ook nie louter nie; en op hulle wag ’n smartlike straf
  78. En waarlik, daar is ’n groep onder hulle wat leuens aangaande die Boek versprei sodat julle dit as ’n deel van die Boek moet aanneem, terwyl dit nie daarby hoort nie. Dit is van Allah, sê hulle, terwyl dit nie so is nie; en hulle versin ’n leuen teen Allah, terwyl hulle dit weet
  79. Dit betaam geen sterfling dat as Allah hom die Boek en die oor- deelsvermoë en die profeetskap gegee het, dat hy sal sê: Dien mý (eerder) en nie Allah nie; maar (inteendeel) moet hy sê: Wees van die Rabbaniyoen: (Geleerde mense wat dit wat hulle ken, uitleef en dit aan ander leer) omdat julle uit die Boek onderrig, en omdat julle dit bestudeer
  80. Nog minder sal hy julle gebied om die engele en die profete as gode te aanvaar. Sou hy julle die ongeloof aanraai nadat julle Moesliems geword het
  81. En toe Allah ’n verbond deur die profete gesluit het: Voorwaar, het Ek aan julle die Boek en die wysheid geskenk ~ daarna het ’n Boodskapper tot julle gekom en bevestig wat reeds met julle was ~ julle sal in hom glo en julle sal hom bystaan. Hy het gevra: Bekragtig julle My verbond in hierdie saak, en neem julle dit aan? Hulle het geantwoord: Ons bekragtig dit.10 Hy het gesê: Dra dan getuie
  82. Maar wie hierna terugdraai ~ wie hulle ook al is ~ hulle is die oortreders
  83. Soek hulle dan ’n ander godsdiens as die diens van Allah? En wie ook al in die hemele of op die aarde is, hulle onderwerp hulself gewillig of onwillig aan Allah, en Hy sal hulle tot Hom terugbring
  84. Sê: Ons glo in Allah en in wat aan ons geopenbaar is, en wat geopenbaar is aan Abraham en Ismael, en Isak en Jakob en aan die volkstamme en in wat aan Moses en Jesus en aan die profete van hulle Here gegee is. Ons maak geen verskil tussen enige van hulle nie, en ons onderwerp ons aan Hom
  85. En wie dan ook ’n ander godsdiens as Islam soek, dit sal van hom nie aangeneem word nie en in die Hiernamaals sal hy onder die verlorenes wees
  86. Hoe sal Allah ’n volk lei wat ongelowig geraak het nadat hulle voorheen geglo het, en nadat hulle getuig het dat die Boodskapper waaragtig is, en nadat duidelike tekens en bewyse tot hulle gekom het? En Allah lei nie enige onregverdige volke nie
  87. (Dit is hulle) wie se belonging slegs is dat die vloek van Allah, en die engele en die mense tesame, op hulle sal rus
  88. Hulle sal daaronder gebuk gaan. Hulle straf sal nie ligter gemaak word nie, ook sal daar geen uitstel aan hulle verleen word nie
  89. Behalwe hulle wat berou toon en verbeter, want waarlik, Allah is Vergewensgesind, Genadevol
  90. Hulle wat ongelowig raak nadat hulle geglo het, en nog verder toeneem in ongeloof, hulle berou sal nie aanvaar word nie; en hulle is die verdwaaldes
  91. Hulle wat ongelowig raak en as ongelowiges sterf, selfs ’n losprys bestaande uit al die goud van die aarde, sal nie aangeneem word as hy hom daarmee wil loskoop nie. Dit is húlle op wie ’n smartlike straf wag, en vir hulle is daar geen hulp nie
  92. Julle sal geen regverdigheid bereik sonder dat julle afstand doen van wat julle die liefste het nie. En wat julle ook al bestee, waarlik, Allah weet dit
  93. Alle voedsel was vir die Kinders van Israel veroorloof vóór die openbaring van die Tora, behalwe dít wat Israel homself ontsê het. Sê: Bring die Tora en lees dit, indien julle die waarheid lief het
  94. Diegene wat hierna dus ’n leuen teen Allah versin, is van die onregverdiges
  95. Sê: Allah spreek die waarheid; volg daarom die godsdiens van Abraham, die opregte. En hy was nie van die afgodedienaars nie
  96. Voorwaar, die eerste huis wat vir aanbidding vir die mensdom aangewys is, was op Bakka.11 Geseënd is dit en ’n leiding vir alle nasies
  97. Daarin is duidelike tekens: Dit is die plek van Abraham; en wie daarin ingaan, sal veilig wees; en die bedevaart na die Huis is deur Allah aan die mens opgelê; opgelê aan wie dit kan bekostig om daarheen te reis. En wie dit betwis, waarlik, Allah het nie die hulp van die wêrelde nodig nie
  98. Sê: O Mense van die Boek! Waarom verwerp julle die tekens van Allah terwyl Hy Getuig van julle doen en late
  99. Sê: O Mense van die Boek! Waarom verhinder jul die gelowiges om die weg van Allah te betree, en probeer julle om dit krom te maak, terwyl jul getuies van hierdie dinge is? En Allah is nie onbewus van wat julle doen nie
  100. O julle wat glo! Indien julle sommige van hulle aan wie die Boek gegee is gehoorsaam, sal hulle weer van julle ongelowiges maak nadat julle geglo het
  101. En hoe kan julle dan die ongeloof aanvaar terwyl die tekens van Allah aan julle geopenbaar word; terwyl Sy Boodskappers by julle is? En hulle wat aan Allah vashou, is reeds op die regte weg gelei
  102. O julle wat glo! Vrees Allah soos Hy gevrees behoort te word; en sterf nie voordat julle julleself aan Sy Wil onderwerp het nie
  103. En hou almal saam vas aan die verbond met Allah, en wees nie verdeeld nie. En onthou Allah se guns aan julle toe julle nog vyande was, hoe Hy jul harte verenig het en julle deur Sy guns daarna broers geword het. En julle was op die rand van ’n afgrond, en Hy het julle daarvan gered. So verduidelik Allah Sy tekens aan julle sodat julle gelei mag word
  104. En laat daar tussen julle ’n groep wees wat (ander) tot goedheid en regverdigheid aanspoor en die slegte en kwaad verbied; dit is húlle wat suksesvol sal wees
  105. En wees nie soos hulle wat onderling verdeeld was en van mening verskil het nadat duidelike bewyse tot hulle gekom het nie. En vir hulle is daar ’n smartlike straf
  106. Op die Dag waarop sommige gesigte wit en ander swart sal word: aan hulle wie se gesigte swart geword het, sal gevra word: Was julle weer ongelowig nadat julle geglo het? Proe dan die straf van die ongelowiges
  107. Maar hulle wie se gesigte wit sal wees, oor hulle sal die barmhartigheid van Allah wees; daarin sal hulle woon
  108. Dít is die tekens van Allah wat Ons met waarheid aan julle voordra. En Allah wens niemand en niks kwaad toe nie
  109. En aan Allah behoort alles wat in die hemele en op die aarde is. En alles word na Allah teruggebring
  110. Julle is die beste volk wat uit die mensdom verwek is: julle beveel dit wat goed is en verbied dit wat kwaad is, en julle glo in Allah. En indien die Mense van die Boek maar geglo het, sou dit vir hulle beter gewees het. Sommige van hulle is gelowig, maar die meeste is ongehoorsaam
  111. Hulle sal julle geen kwaad kan aandoen nie, behalwe in ’n geringe mate. En as hulle met julle veg, sal hulle hul rûe op julle draai. Dan sal daar vir hulle geen hulp wees nie
  112. Vernedering sal hulle tref, waar hulle hul ook al mag bevind, tensy hulle ’n verbond met Allah aangaan, of ’n verbond met ander volkere; en hulle sal die toorn van Allah opwek, en armoede sal hulle deel wees
  113. Hulle is nie almal eenders nie. Tussen die Mense van die Boek is daar ’n groep opregtes wat die tekens van Allah snags oordink en hulle hoofde op die grond in aanbidding neerbuig
  114. Hulle glo in Allah en in die Laaste Dag, en hulle beveel dit wat goed is, en verbied dit wat kwaad is, en wedywer onder mekaar in goeie werke. En hulle behoort tot die regverdiges
  115. En die goeie dade wat hulle doen sal nooit misken word nie. En Allah weet wie godvresend is
  116. Waarlik, diegene wie nie glo nie, hulle besittings en hulle kinders sal van nul en gener waarde by Allah wees. En hulle sal die bewoners van die Vuur wees; daarin sal hulle woon
  117. En die gelykenis van wat hulle hande doen is soos ’n snerpend koue wind; dit tref die oes van ’n volk wat hulself kwaad aandoen, en vernietig dit. En Allah het teenoor hulle geen onreg gepleeg nie, inteendeel, hulle het dit aan hulself gedoen
  118. O julle wat glo! Soek geen intieme vriendskap onder vreemde volke nie; hulle sal nie nalaat om julle kwaad aan te doen nie. Hul begeerte is om aan julle kwaad te doen. Vurige nyd het reeds al by hulle monde uitgekom, en wat in hulle harte verborge is, is nog erger. Ons het Ons tekens duidelik gemaak, indien julle dit wil verstaan
  119. Maar kyk! Julle het hulle lief, terwyl hulle nie dieselfde gevoel vir julle koester nie. En julle glo aan die Boek12 in sy geheel. En wanneer hulle jul ontmoet, dan sê hulle: Ons glo, maar wanneer hulle op hul eie is, dan byt hulle hulle vingerpunte uit raserny oor julle. Sê: Sterf in julle raserny. Voorwaar, Allah weet wat in die harte omgaan
  120. Indien daar iets goeds met júlle gebeur, dan raak hulle verdrietig, maar as iets kwaads julle tref, dan verheug hulle hul daaroor. Maar indien julle geduldig en godvresend bly, sal hulle planne julle geheel en al geen skade berokken nie. Voorwaar, Allah weet wat hulle doen
  121. En toe julle in die vroeë môre van julle huisgesinne af weggetrek het om die gelowiges hulle stellings vir die geveg aan te wys ~ en Allah is Alhorend, Alwetend
  122. toe twee partye onder julle tekens van lafhartigheid wou toon, en Allah die Bewaarder van hulle albei was ~ en op Allah moet die gelowiges vertrou
  123. En Allah het vroeër reeds by Badr gehelp, toe julle ’n klein, swak mag was. En wees bewus van Allah, sodat julle stof tot dankbaarheid mag hê
  124. Toe u die gelowiges toegespreek en gesê het: Is dit nie genoeg dat Allah julle met drieduisend gestuurde engele sal help nie
  125. Ja, as julle standvastig is en godvresend bly, en dit dan gebeur dat die ongelowiges in wilde vaart aanval, sal julle Heer julle met vyfduisend gestuurde engele bystaan
  126. En Allah het dit net maar as ’n blye tyding aan julle gestuur, sodat julle harte daardeur gerus kan word. En hulp kom alleen maar van Allah, die Almagtige, die Alwyse
  127. Sodat Hy ’n deel van die ongelowiges kan vernietig, of hulle so verneder dat hul mislukking hulle sal laat terugval
  128. Dit gaan u nie aan of Hy Hom uit genade tot hulle keer, of hulle straf nie, al is hulle inderdaad boosdoeners
  129. En aan Allah behoort alles wat in die hemele en wat op die aarde is. Hy vergewe wie Hy wil en straf wie Hy wil. En Allah is Vergewensgesind, Genadevol
  130. O julle wat glo! Moenie woekerwins, dubbeld en verdubbel, verslind nie, en wees godvresend sodat julle suksesvol mag wees
  131. En waak teen die Vuur wat vir die ongelowiges berei is
  132. En gehoorsaam Allah en die Boodskapper sodat genade aan julle betoon mag word
  133. En wedywer met mekaar om die vergifnis van julle Heer, en om die Paradys, waarvan die uitgestrektheid so wyd soos die hemele en die aarde is; dít is voorberei vir die godvresendes
  134. wat spandeer in die weg van Allah in tye van voor sowel as teëspoed, en wat hulle boosheid in bedwang hou en vergewensgesind is. En Allah is lief vir hulle wat goed doen aan hul naaste
  135. En hulle wat, wanneer hulle oortree en hul siele kwaad aangedoen het, aan Allah dink en Hom om vergifnis van hulle sonde smeek ~ en wie behalwe Allah kan sondes vergewe? ~ en hulle volhard nie willens en wetens in hulle verkeerde dade nie
  136. hulle beloning is beskerming van hul Heer, en Tuine waardeur riviere vloei, en waarin hulle kan woon. En groot is die loon van die ywerige werkers
  137. Voorwaar, hiervan was daar voorheen al voorbeelde; reis dan om die aarde en kyk wat die einde van die leuenaars was
  138. Hierdie Boek13 is ’n duidelike verklaring aan die mense, en ’n leiding en ’n vermaning vir die godvresendes
  139. En wees nie weekhartig nie, en treur ook nie, en julle sal oorwinnaars wees mits julle gelowig is
  140. As ’n wond julle pyn veroorsaak het, dan het die ongelowiges ook ’n soortgelyke pyn gehad. Sulke dae bring Ons beurtelings oor die mens, sodat Allah toets wie die gelowiges is en martelaars uit julle midde kan neem ~ En Allah is nie lief vir die ongehoorsamiges nie
  141. en sodat Hy die gelowiges kan louter en die ongelowiges kan vernietig
  142. Reken julle dat julle die Paradys sal binnegaan terwyl julle nog nie getoets is wie van julle hard strewe en standvastig is nie
  143. En julle wou die dood tegemoet gaan voordat julle dit leer ken het, maar nou het julle dit gesien
  144. En Moegammad was slegs ’n boodskapper ~ en sommige van die boodskappers het reeds heengegaan. ~ Sal julle dan op die plek omdraai as hy sterf of gedood word? Diegene wat op terugdraai sal geen skade aan Allah berokken nie. En vorwaar, Allah sal die dankbares beloon
  145. En geen siel kan sterf sonder die toestemming van Allah nie ~ die tyd daarvoor is vasgestel. En wie ’n beloning in hierdie wêreld verlang, dié gee Ons hom, en wie ’n beloning in die Hiernamaals verlang, ook dít sal Ons hom gee. En Ons sal sekerlik die dankbares beloon
  146. En hoeveel profete, met talryke aanbidders van die Here aan hul sy, was nie al in die geveg nie? En hulle het nie moed verloor weens die talryke ontberinge wat hulle op die weg van Allah verduur het nie, ook het hulle nie verslap of hulle self verneder nie. En Allah het die geduldiges lief
  147. En hulle versugtinge was slegs: Ons Heer! Beskerm ons teen ons sondigheid en die buitensporighede in ons gedrag, en plaas krag in ons voete, en help ons teen die ongelowige volk
  148. Daarom het Allah hulle die beloning van hierdie wêreld gegee, maar ook ’n ruim beloning in die Hiernamaals. En Allah het die weldoeners lief
  149. O julle wat glo! As julle die ongelowiges volg, sal hulle julle sekerlik in jul spore laat omdraai; dan sal julle terugkeer as verloorders
  150. Maar nee, Allah is julle Beskermer, en Hy is die Beste Helper
  151. Ons sal die harte van die ongelowiges met vrees vervul, omdat hulle aan Allah dinge toeskryf waartoe Hy geen magtiging verleen het nie. En hulle woning sal die Vuur wees. En die woonplek van die ongelowiges is verskriklik
  152. En Allah het Sy belofte aan julle gestand gedoen en julle het hulle met Sy verlof omgebring, maar daarna het julle lafhartig geword en onder mekaar getwis oor die saak, en ongehoorsaam geword nadat Hy julle laat sien het wat julle graag wou sien. Tussen julle was daar sommige wat hierdie wêreld begeer het, en ook diegene wat die Hiernamaals begeer het. Toe het Hy hulle van jul geskei sodat Hy julle op die proef kan stel. Maar Hy het julle daarna vergewe. En Allah is Genadevol teenoor die gelowiges
  153. Toe julle gevlug en op niemand ag geslaan het nie, terwyl die Boodskapper julle van veraf nader roep, het Hy nog ’n smart by julle eerste gevoeg, sodat julle nie kan treur oor wat julle verloor of oor wat met julle gebeur het nie. En Allah is bewus van wat julle doen
  154. Ná die smart het Hy veiligheid oor julle gebied sodat ’n deel van julle kon insluimer. Maar ’n groep was oor hulself bekommerd omdat hulle ten onregte onwetend was oor die dade van Allah. Hulle het gesê: Het ons dan iets met hierdie saak te doen? Sê: Die saak rus in die hande van Allah. Hulle verberg binne hulself wat hulle nie aan u bekend wil maak nie. Hulle sê: As die saak in ons hande was, sou ons nie hier geveg het nie. Sê: As julle tuis gebly het, sou hulle wat vir die stryd bestem was nog voortgegaan het na die plekke waar hulle sou sterf. En dit vind plaas sodat Allah julle harte kan beproef en louter. En Allah weet wat in die binneste omgaan
  155. Dié van julle wat teruggeval het op die dag toe die twee strydmagte mekaar ontmoet het is deur die duiwel, om hulle dade se onthalwe, in vertwyfeling gebring. En voorwaar, Allah het hulle vergewe. Allah is voorwaar Vergewensgesind, Ver- draagsaam
  156. O julle wat glo! Moenie soos die ongelowiges maak wat, wanneer hulle oor die aarde opruk, aangaande die stryd van hulle broers sê: Het hulle by ons gebly, sou hulle nie gesterf het, of doodgemaak gewees het nie. Want Allah sal dit vir hulle ’n wroeging in die hart maak. Allah skenk die lewe en ook die dood. En Allah sien wat julle doen
  157. En as julle in die weg van Allah omkom, en as julle sterwe, sal Sy genade en beskerming vir julle beter wees as die dinge wat julle vergaar
  158. En as julle sterwe of omkom, sal julle voorwaar na Allah teruggebring word
  159. Deur die genade van Allah is u14 sagmoedig teenoor hulle.15 En as u ru was, of hardvogtig, sou hulle sekerlik van u af weggetrek het. Vergewe hulle daarom en vra om beskerming vir hulle, en raadpleeg hulle in belangrike sake. Maar wanneer u vasberade is, vertrou dan op Allah. Voorwaar, Allah het hulle lief wat hul vertroue in Hom stel
  160. As Allah julle help, sal niemand julle kan oorweldig nie; maar as Hy julle versaak, wie sal julle dan kan help? En in Allah moet die gelowiges hulle vertroue stel
  161. En dit betaam nie ’n profeet om oneerlik te wees nie. En wie ook al oneerlik handel, op die Dag van Wederopstanding sal hy sy oneerlikhede met hom saambring. Dan sal elke siel ten volle uitbetaal word volgens sy verdienste, en niemand sal ingedoen word nie
  162. Is hy in wie Allah ’n welbehae het, dan soos iemand wat die toorn van Allah opgewek het, en wie se woning die Hel is? En dit is ’n gedoemde bestemming
  163. Daar is grade by Allah. En Hy sien wat hulle doen
  164. Voorwaar, Allah het die gelowiges ’n guns bewys deur uit hulle midde ’n boodskapper te laat opstaan wat Sy tekens aan hulle verkondig en wat hulle louter, en hulle in die Boek en in die wysheid onderrig, hoewel hulle voorheen verdwaal was
  165. Hoe is dit dan? Wanneer ’n rampspoed julle tref ~ en twee keer al het julle dit oor jul vyande gebring ~ sê julle: Van waar kom dit? Sê: Dit kom van julle self. Voorwaar, die mag van Allah oortref alle dinge
  166. En wat julle oorval het op die dag toe die twee strydmagte mekaar ontmoet het, het geskied met die verlof van Allah, sodat Hy die gelowiges kon toets
  167. en ook dat Hy die huigelaars kon toets. En aan hulle is gesê: Kom en veg in die weg van Allah en verdedig julle. Hulle antwoord was: As ons net geweet het hoe om te veg, sou ons julle sekerlik gevolg het. Op daardie dag was hulle nader aan die ongeloof as aan die geloof; met hulle monde sê hulle wat nie in hul harte is nie. En Allah weet alles wat hulle verberg
  168. Hulle wat, toe hulle tuis gebly het, van hul broers gesê het: As hulle na ons geluister het, sou hulle nie dood gewees het nie. Sê: Weer dan die dood van júlle af, as julle die waarheid praat
  169. En dink nie aan hulle wat op die weg van Allah gesneuwel het as dooies nie. Nee, hulle lewe (inderdaad) en word deur hul Heer van die nodige voorsien
  170. En hulle jubel oor wat Allah van Sy oorvloed aan hulle geskenk het, en hulle is bly om die onthalwe van diegene wat nog behoue is en nog nie tot hulle versamel is nie, en ook omdat hulle geen vrees of droefheid sal ken nie
  171. Hulle verheug hulle in die gunste van Allah en in Sy oorvloed, want Allah sal die beloning van die gelowiges nie agterweë hou nie
  172. Hulle, wat op die geroep van Allah en die Boodskapper geantwoord het, al was hulle swaar gewond ~ op hulle, wat goed doen en regverdig handel, wag ’n groot beloning
  173. Hulle aan wie gesê is: Die volkere het teen julle saamgetrek; vrees hulle daarom; maar wie se geloof daarna nog groter was, en wat geantwoord het: Allah se hulp is vir ons genoeg, en Hy is ’n uitmuntende voog
  174. Daarom het hulle met die guns van Allah en Sy genade teruggekeer. Geen kwaad het hulle oorval nie, en hulle het Sy welbehae gesoek. En Allah is die Heer van groot genade
  175. Dit is die duiwel wat sy vriende bang maak, maar moenie hulle vrees nie, maar vrees My as julle gelowig is
  176. En moenie verdrietig raak oor diegene wat hulle in die ongeloof in haas nie; hulle kan tog niks aan Allah doen nie. Allah is van plan om hulle geen aandeel in die Hiernamaals te gee nie; en op hulle wag ’n groot straf
  177. Voorwaar, hulle wat die geloof verruil vir ongeloof, kan niks aan Allah doen nie; en vir hulle is daar ’n smartlike straf
  178. En laat die ongelowiges nie dink dat die uitstel wat Ons hulle verleen, goed is nie. Ons verleen hulle slegs uitstel sodat hulle in sonde kan toeneem. En daar is vir hulle ’n vernederende straf
  179. Allah sal die ongelowiges in hulle huidige toestand laat bly todat Hy die goeie van die kwaad geskei het. Ook gaan Allah aan julle die ongesiene nie bekend maak nie, maar kies as Sy boodskappers wie Hy wil. Glo daarom in Allah en aan Sy boodskappers. En indien julle glo en en godvresend is, sal daar vir julle ’n groot beloning wees
  180. En laat hulle wat uit suinigheid nie van die dinge wat Allah uit Sy oorvloed aan hulle geskenk het, wil bestee nie, nie dink dat dit hulle ten goede gereken sal word nie. Nee, dit sal hulle ten kwade gereken word. Hulle sal op die Dag van Opstanding ’n halsband van gierigheid om hulle nekke dra. En aan Allah behoort die erfdeel van die hemele en die aarde. En Allah is bewus van julle dade
  181. Waarlik, Allah het gehoor toe hulle gesê het: Allah is arm en ons is ryk. Ons sal aanteken wat hulle sê, en ook dat hulle die profete onregverdiglik doodmaak, en Ons sal sê: Smaak dan die straf van verbranding
  182. dít is wat julle hande verwerf het. En Allah is nie onregverdig teenoor Sy dienaars nie
  183. Hulle wat sê: Allah beveel ons om geen boodskapper te glo nie tensy hy ’n offerande kan bring wat deur vuur verteer sal word. Sê: Tog het daar vóór my boodskappers na julle gekom met duidelike tekens en met wat julle wou hê. As julle die waarheid praat, waarom wou julle hulle dan doodmaak
  184. Maar as hulle u16 verwerp, weet dan dat daar vóór u bood- skappers was wat verwerp is, boodskappers wat met duidelike tekens, Heilige Geskrifte en die Boek van Verligting gekom het
  185. Elke siel sal die dood proe. En op die Opstandingsdag sal jul beloning ten volle aan julle uitbetaal word. Wie ver van die Vuur verwyder word en die hemel mag binnegaan, het inderdaad sy doel bereik. En die lewe in hierdie wêreld is niks anders as ’n bedrogspul nie
  186. Julle sal sekerlik met julle besittings en jul persoon beproef word. En julle sal pynlike dinge hoor van hulle aan wie die Boek vantevore gegee is, en van die afgodedienaars. Maar as julle geduldig en godvresend is, dan is dit waarlik ’n saak van vasberadenheid
  187. En toe Allah ’n verbond gesluit het met hulle aan wie die Boek gegee is, het Hy gesê: Julle sal dit aan die mense bekend maak en dit nie verberg nie. Maar hulle het dit die rug toegekeer en dit vir ’n mislike prys verruil. Kwaad is dit wat hulle aankoop
  188. Moenie dink dat hulle wat juig oor wat hulle gedoen het, en wat daarvan hou om geprys te word vir wat hulle gedoen het, die straf sal ontduik nie. En op hulle wag ’n smartlike straf
  189. En aan Allah behoort die koninkryk van die hemele en die aarde. En Allah se mag oortref alles
  190. In die skepping van die hemele en die aarde en in die wisseling van dag en nag, is daar waarlik tekens vir mense wat verstaan
  191. Hulle wat aan Allah dink, of hulle staan of sit of lê, en nadink oor die skepping van die hemele en die aarde, sê: Ons Heer! U het dit nie vergeefs geskape nie. Lof kom U toe! Red ons daarom van die straf van die Vuur
  192. Ons Heer, diegene wie deur U die Vuur binnegestuur word, is grootliks verneder. En die onregverdiges sal geen helpers vind nie
  193. Ons Heer! Ons het ’n prediker gehoor wat tot die geloof oproep, en sê: Glo in u Heer! Ons glo. Ons Heer! Vergeef ons ons sonde en wis die kwaad in ons uit en laat ons saam met die regverdiges sterwe
  194. Ons Heer, skenk ons wat U ons deur U boodskappers belowe het, en verneder ons nie op die Opstandingsdag nie. Voorwaar, U verbreek nooit U beloftes nie
  195. Daarom het hulle Heer dan ook hul gebed verhoor en gesê: Ek sal die werke van geen arbeider onder julle ~ hetsy man of vrou ~ verlore laat gaan nie. Julle hoort bymekaar. Hulle wat gevlug het en uit hulle huise verdryf is, en om My ontwil vervolg is, en in die stryd gesneuwel het, Ek sal hulle skuld nietig verklaar en hulle Tuine laat binnegaan waardeur riviere vloei. Dit is ’n beloning van Allah. En Allah bied die beste beloning
  196. Laat die ongelowiges wat die land beheer, julle nie bedrieg nie
  197. Hulle vreugde is kortstondig! Daarna sal hulle in die Hel woon; en dit is ’n gedoemde rusplek
  198. Maar hulle wat hul Heer vrees, vir hulle is daar Tuine waardeur riviere vloei; daarin sal hul vertoef, deur hul Heer onthaal. En wat by Allah is, is vir die regverdige verkiesliker
  199. Sommige van die Mense van die Boek glo in Allah, en aan dít wat aan julle geopenbaar is, en hulle verootmoedig hul voor Allah. Hulle verkoop ook nie die Tekens van Allah teen ’n geringe prys nie. Dit is húlle wat ’n beloning by hul Heer sal vind. Voorwaar, Allah is haastig met vereffening
  200. En vrees Allah sodat julle geseën mag wees